Overstrand Munisipaliteit is in die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) se verslag getiteld ‘The 80/20 Report: Local Government in 80 indicators after 20 years of democracy’ aangewys as die tweede beste munisipaliteit in Suid-Afrika.

Die skrywer van die verslag en programbestuurder en navorser vir die IRR, Georgina Alexander, het gesê die werkloosheidskoers, die verhouding van mense van 20 jaar en ouer wat Graad 12 geslaag het en die armoedesyfer was ’n paar van die hoofaanwysers wat gebruik is om munisipale prestasie te meet.

Ander aanwysers behels die proporsie van huishoudings wat elektrisiteit vir beligting gebruik, wat toegang tot leidswater binne 1 km vanaf ’n huishouding het, wat spoel- of chemiese toilette het, sowel as huishoudings sonder toilette.  Ses van die tien hoofaanwysers hou met dienslewering verband. Nie minder nie as sewe van die land se tien beste munisipaliteite is in die Wes-Kaap geleë, wat ’n fantastiese prestasie is, gegewe die feit dat daar altesaam 278 munisipaliteite in die land is.

Saldanhabaai Munisipaliteit is as die wenner aangewys, terwyl die ander ses presteerders in die top-tien Overstrand, Drakenstein, Mosselbaai, Swartland, Stellenbosch en Stad Kaapstad is.

Nicolette Botha-Guthrie, Uitvoerende Burgemeester van Overstrand Munisipaliteit, is uiteraard baie trots op dié prestasie en is van mening dat die aanwysing as tweede beste munisipaliteit erkenning gee aan die pogings van die Raad, amptenare, gemeenskappe, besighede en organisasies in die Overstrand-gebied.

Sy het bygevoeg dat “nieteenstaande hierdie eer wat ons as munisipaliteit te beurt geval het, moet ons nog baie doen om tot ons bevrediging ons dienslewering op ’n hoër vlak te kry.” Sy het egter die versekering gegee dat “ons hard hieraan werk en hoop dat ons gemeenskap die verbetering in dienslewering sal ervaar.”

Search

Contact Us


Hermanus 028 313 8000
Kleinmond 028 271 8400
Gansbaai 028 384 8300
Stanford 028 341 8500

enquiries@overstrand.gov.za