
Overstrand Munisipaliteit is in die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) se verslag getiteld ‘The 80/20 Report: Local Government in 80 indicators after 20 years of democracy’ aangewys as die tweede beste munisipaliteit in Suid-Afrika.
Die skrywer van die verslag en programbestuurder en navorser vir die IRR, Georgina Alexander, het gesê die werkloosheidskoers, die verhouding van mense van 20 jaar en ouer wat Graad 12 geslaag het en die armoedesyfer was ’n paar van die hoofaanwysers wat gebruik is om munisipale prestasie te meet.
Ander aanwysers behels die proporsie van huishoudings wat elektrisiteit vir beligting gebruik, wat toegang tot leidswater binne 1 km vanaf ’n huishouding het, wat spoel- of chemiese toilette het, sowel as huishoudings sonder toilette. Ses van die tien hoofaanwysers hou met dienslewering verband. Nie minder nie as sewe van die land se tien beste munisipaliteite is in die Wes-Kaap geleë, wat ’n fantastiese prestasie is, gegewe die feit dat daar altesaam 278 munisipaliteite in die land is.